Jantjie Van Die Berge
Lank gelede by die kloof aan die Magaliesberg se hang
Toe die wat dit vertel nog kinders was
Het 'n siel geswerf wat kind was maar op sy manier 'n man
Gebore om die berge op te pas
En as die donderwolke saamsweer teen die kranse by die kloof
En die dag word soos 'n sterrelose nag
En die dreuning van die donder elke ander klank verdoof
Het almal op sy vreugdeslied gewag
Want die kranse was sy mure
En die hemel was sy dak
En sy vriende was die donder en die reën
En wanneer hy klippe bergaf rol en doringboompies knak
Was hy die berg die storm alles een
En die bliksem skeur die hemel
En die wind se wolwehuil
Nooi die berg se stroefste bome vir die dans
En mens en dier wat vreesbevange teen die storm skuil
Hoor sy lied weerklink van krans tot krans
Lank gelede by die kloof aan die Magaliesberg se hang
Na nagte teen die kranse in die reën
Het 'n siel geswerf wat kind was
Maar op sy manier 'n man
En daarna was die berge weer alleen
Tog die mense die vertel my as jy op 'n stormsnag
Sy spoor vat teen die krans uit en daar skuil
Hoor jy soms iemand iewers bo die donderslae lag
En somtyds weer dan hoor jy iemand huil