Ballade Van 'n Koningsdogter
O, bly het die koning se lippe gelag en hoog het bokale geswaai
Kom ledig die beker se vonk’lende prag en bring hier my dogter so fraai
Met ‘n fa, la, falalala en die sang van ‘n silwer basuin
Het die koning se bode die lelie gaan haal wat pryk in die koning se tuin
O, bly het die koning se dogter gespeel, die mooiste blom in die tuin
Toe hoor sy ‘n stem wat nog liefliker streel as die sang van ‘n silwer basuin
Met ‘n fa, la, falalala en die oë so sag en so bruin
Het die koning se bode die lelie gaan haal wat pryk in die koning se tuin
Die koning laat vra of sy dogter sal kom, sy Majesteit vier fees
En soeter nog is die wyn vir hom as sy dogter daar kan wees
Met ‘n tra, la, tralalala en die gloed van sy stem in haar hart
Het die koning se dogter die bode gevolg en vry was sy van smart
En teer het die oë wat haar verbly die lelie aangekyk
Sy was die bloeisel so rein en hy die stingel in die slyk
Met ‘n tra, la, tralalala en die gloed van sy stem in haar hart
Het die koning se dogter haar minnaar gevolg en vry was sy van smart
En gou het die koning opgespring om sy dogter te begroet
En die prinses na die troon te bring met die bode aan haar voet
Met ‘n ra, ta, ratatata en die swaai van ‘n rooi banier
Het ‘n hoë besoeker daar aangekom om met hul fees te vier
Trots het die koning opgestaan en almal luister nou
O, howelinge hoor my aan die Blom van my huis gaan trou
Met ‘n ra, ta, ratatata en die swaai van ‘n rooi banier
Het die hoë besoeker uitgetree, o koning ek is hier
En bleek het die koning se dogter geword en wild was haar oë nou
My laaste druppel bloed sal ek stort eer ek met die ridder trou
Met ‘n fa, la falalala en die sang van ‘n silwer basuin
Het die koning se bode gaan staan by sy blom gepluk uit die koning se tuin
O, wreed het die koning se oë gevlam en hoog het sy sabel geblink
Soos die kruin van ‘n wilker, gesny van sy stam het die bode neergesink
Met ‘n tra, la, tralalala en ‘n kilte wat kruip oor haar hart
Het die koning se dogter gesing en gelag, gesing en gelag
Gesing en gelag deur die lang donker nag
Met die singende stem van die smart